Alkoholsindroom raak babas én grootmense

FETALE ALKOHOLSINDROOM (FAS) is reeds 'n "reuse probleem" en dit kan 'n al groter probleem word.

Dit is die mening wat dokters en ander kenners in die algemeen oor dié sindroom het. Prof. Denis Viljoen van die Universiteit van die Witwatersrand het in 'n studie onder skoolgaande kinders in 'n plattelandse dorp in die Wes-Kaap bevind dat 84 uit elke 1 000 kinders FAS in sy hoogste graad het. Dit beteken die kind toon sigbare fisiese tekens van die sindroom, soos 'n kort neus met neusgate wat vorentoe en nie ondertoe wys nie, 'n gladde, uitstaande bolip en klein oë, kop en ken.

Om 'n raming te kry van kinders wat in die baarmoeder aan enige hoeveelheid alkohol blootgestel is, maar minder prominente simptome – soos gedrags- en leerprobleme het – kan dié getal volgens prof. Viljoen met drie of vier vermenigvuldig word.

Hy sê hoewel hy nog geen studies in Worcester en die omgewing gedoen het nie, kan hy "met veiligheid" sê dat die prentjie hier min of meer dieselfde sal lyk. En dit vergelyk sleg met syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat toon dat slegs 15 uit 1 000 kinders in ontwikkelde lande wêreldwyd en 45 uit 1 000 in ontwikkelende lande aan dié sindroom ly.

Volgens Francois en Marietjie Grobbelaar van FASfacts, 'n organisasie wat FAS-voorkomingswerk doen, kan die probleem veel groter word. "Mense met FAS se oordeelsvermoë is swak – hulle breine funksioneer vanweë permanente breinskade nie normaal nie. As FAS-volwassenes en -kinders tree hulle impulsief op en het hulle 'n groter vatbaarheid om substansafhanklik te word."

Dr. Charl Oettle, 'n ginekoloog by Eben Dönges-hospitaal stem saam. "'n Vrou wat self FAS het se insig is swak. Selfs al word hulle ingelig, kan hulle nie die verband tussen drank en skade aan 'n baba trek nie."

Hulle skets 'n kommerwekkende prentjie oor die sosiale impak van die sindroom. "FAS-lyers kom nie deur die skool nie, is nie opleibaar nie en kan nie goeie werk kry nie," sê Oettle. Grobbelaar neem dit verder. "Hulle raak betrokke by misdaad, dwelms en bendebedrywighede en hoewel ons nie kan veralgemeen nie, bots hulle in heelwat gevalle met die gereg." Volgens hom is 'n deel van die FAS-probleem dat mense oningelig is. Hy sê vroue is soms onder die indruk dat 'n klein hoeveelheid drank tydens swangerskap toelaatbaar is, maar die énigste waarborg dat 'n kind nie FAS sal hê nie, is as die ma géén alkohol inneem nie. In gevalle waar 'n vrou wel by klinieke ingelig word, het alkoholverslawing soms so 'n houvas op haar, dat sy steeds drink tydens haar swangerskap.

Volgens Oettle en 'n ander ginekoloog by die hospitaal, dr. Sonja Needham, is FAS nie die enigste swangerskapprobleem wat deur alkohol veroorsaak word nie. Buiktrauma, voortydse kraam en ander beserings wat voorkom wanneer messteek, slanery en skoppery weens drankmisbruik voorkom, is ook moontlik. Dokters ervaar dit veral in die fees- en parstyd wanneer drank volop gebruik word.

Grobbelaar meen die oplossing lê in herhaalde bewusmakingsveldtogte en wetgewing wat waarskuwings op drankhouers verpligtend maak.

Gepubliseer deur Worcester Standard

Sorry, comments are closed for this post.