FASfacts baklei hard teen alkoholsindroom

BOB is 'n boontjiepit en simboliseer die "beste opgepaste baba". Bob is 'n hulpmiddel om kinders te leer dat alkohol sleg is vir ongebore babas.

Mnr. Francois Grobbelaar, hoof uitvoerende beampte van FASfacts, 'n organisasie wat bewusmakingswerk oor fetale alkoholsindroom doen, sê kinders wat aan die bewusmakingsprogram deelneem, moet die boontjie plant, huis toe neem en oppas so goed hulle kan. By hulle volgende klas vergelyk hulle hul eie plantjies met een wat in alkohol geplant is.

Hierdie lessie is maar een voorbeeld van die ervaringsleer wat FASfacts in hul sessies implementeer. Dié praktiese metode van leer help kinders in gr. 6 en 7 om die noodsaaklike boodskap van "géén alkohol tydens swangerskap" te onthou.

Grobbelaar en sy vrou, Marietjie, het FASfacts op die been gebring om die reuse FAS-probleem wat in die Wes-Kaapse platteland bestaan, te probeer verlig. "Die probleem is groter as wat mens op die oog af sien. In die hoërisiko landelike areas is daar baie ma's wat alkohol tydens swangerskap drink," sê Grobbelaar.

Volgens statistiek van prof. Denis Viljoen van die Universiteit van die Witwatersrand ly tot 84 uit elke 1 000 skoolgaande kinders in sulke gebiede aan FAS, 'n heeltemal voorkombare siektetoestand wat veroorsaak word wanneer swanger ma's alkohol drink.

FASfacts doen bewusmakingswerk onder skoolkinders en volwassenes in die hele Breedevallei munisipale area, asook in die Breërivier/Wynland munisipale area. Volgens Grobbelaar het hulle dié jaar ook fondse van die KWV gekry om die program in die Paarl aan te bied en hy wil dit graag na ander areas ook uitbrei.

Hulle fokus nie net op meisies en vroue nie, maar werk ook met seuns en mans, sodat hulle hul vroue kan bystaan tydens hul swangerskap. Een van die belangrike dele van die program is dan ook waar deelnemers twee-twee "kontrakte" sluit om nie te drink tydens swangerskap nie of hul vroue of maats by te staan in dié poging.

Die Grobbelaars sê, hoewel dit nie 'n probleem is wat oornag reggeruk kan word nie, ervaar hulle dat hul programme die deelnemers deeglik inlig oor fetale alkoholsindroom.

Hulle glo hulle sukses in die program is te danke aan die Christelike beginsels waarop dit gebaseer is.

Skakel 023 342 7000 vir inligting.

Gepubliseer deur Worcester Standard

Sorry, comments are closed for this post.