DIE ekonomiese koste van alkoholmisbruik in die Wes-Kaap beloop jaarliks meer as R1 miljard.
Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou en gasspreker by die tweedaagse konferensie oor alholmisbruik in die Wes-Kaap dié week by Goudini Spa, het in aansluiting hierby gesê meer as 'n kwart van Wes-Kaapenaars wat oor naweke alkohol gebruik, die normale risikovlakke oorskry.
Dowry het voorts gesê hy is besorg oor die morele verval onder die plaaswerkergemeenskap. "As gevolg van alkoholmisbruik bereik slegs 65% hul volle potensiaal in die werksplek. Mense wat alkohol misbruik is vier keer meer in ongelukke betrokke en is vyf keer meer met siekteverlof. Tussen 40 en 60% van mense wat in ongelukke sterf, was onder die invloed."
Alkoholmisbruik het nie net 'n enorme impak op die ekonomie nie, maar ook op maatskaplike gebied en die gesinstruktuur.
Dowry het 'n beroep op kerke gedoen om saam te werk om mense van die slawerny van drank en algehele morele verval te bevry. Mnr. Christof Cloete, president van Agri Wes-Kaap, het gepleit vir die versterking van gesinswaardes om alkohol- en dwelmmisbruik die hoof te bied.
Hy het gesê wette sal nie die probleme oplos nie, maar kulturele en geestelike verbondenheid en opvoeding kan help om 'n gesonde gesinsstruktuur te vestig. Die uitleef van 'n droom of visie moet deur goeie opleiding in skole en ander opvoedkundige instellings ondersteun word.
Onder die ander sprekers Maandag was me. Fatiema Shabodien van Women on Farms, mnre. Nosey Pieterse, president van die Black Association of the Wine and Spirits Association (Bawsi), en Francois Grobbelaar, uitvoerende hoof van FASfacts, wat inligting oor fetale alkoholsindroom verskaf. Kommer is uitgespreek oor die feit dat Suid-Afrika die hoogste aangemelde voorkoms van fetale alkoholsindroom het en die negatiewe uitwerking van alkohol op ongebore babas.
Mnr. Danie Niemand, direkteur van plaaswerkerontwikkeling van die department landbou, het ter afsluiting gesê 'n forum of taakspan moet saamgestel word om sosio-maatskaplike behoeftes onder oë te neem. Alkoholmisbruik is net die simptoom en die idee van 'n forum, wat deur die department landbou gefasiliteer sal word, is om breër as dit te kyk.
Dié forum moet reeds teen die derde kwartaal met maatskaplike dienste vergader en sosiale ontwikkeling na 'n hoër vlak neem ten einde die plaaswerker vorentoe in 'n beter posisie te plaas.
'n Datum vir dié vergadering sal binne 10 dae aangekondig word.
Gepubliseer deur Worcester Standard


