TALLE rolspelers uit die gemeenskap het onlangs by FASfacts se algemene jaarvergadering ’n Eed van Ondersteuning vir die stryd teen fetale alkoholsindroom (FAS) onderteken.
Volgens FASfacts se hoof uitvoerende beampte, mnr. Francois Grobbelaar, is die groot aantal organisasies en rolspelers wat by die geleentheid was, ’n bevestiging dat daar baie organisasies en individue is wat bereid is om hande te vat in die voorkoming van FAS.
In die eed, wat deur die waarnemende direkteur van die Drankraad van die Wes-Kaap, mnr. Raybin Windvogel, voorgelees is, beloof elkeen wat dit onderteken het om die FAS-voorkomingsveldtog in Suid-Afrika te ondersteun, sal voortgaan om hul ondersteuning te gee solank omstandighede dit toelaat, dat hulle hul stem voeg by dié wat namens kinders wat sonder keuse voor geboorte aan alkohol blootgestel is, praat en dat hulle saamstem dat eenheid onder verskillende rolspelers in die gemeenskappe van die land ’n groot rol speel in die sukses van die FAS-voorkomingsveldtog.
Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, was die gasspreker by die jaarvergadering en het in sy toespraak gesê die voorkoming van FAS is nié ’n ‘one man show’ nie en só aangesluit by die tema van eenheid. “Verskillende rolspelers en lede van die gemeenskappe moet insette maak om FAS in Suid-Afrika te voorkom as ons sukses wil behaal,” het hy gesê.
Dowry het ook die seremonie afgesluit deur ’n fonteintjie, wat die voortgesette ondersteuning van alle rolspelers simboliseer, aan te skakel. Verteenwoordigers het elkeen ’n bekertjie water in die fontein se bak gegooi om hul volgehoue ondersteuning te demonstreer.
Hoewel FASfacts tans slegs in die Wes-Kaap werksaam is, het Grobbelaar aangekondig dat hulle besig is om hul dienste na die Noord-Kaap uit te brei. ’n Direksie vir die Noord-Kaap is reeds verkies. Die voorsitter van die direksie, mev. Nelly Fanie van Upington, het ook die geleentheid bygewoon. FASfacts is tans besig met befondsingsaansoeke vir die Noord-Kaap en dié provinsiale kantoor sal in Upington gevestig word.
* Die individue en verteenwoordigers van instansies wat die eed onderteken het, is: Die Wes-Kaapse departemente van landbou, ekonomiese ontwikkeling, onderwys, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling; die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit; die Breedevallei Munisipaliteit; ’n lid van die gemeenskap; ’n landbouprodusent; ’n plaasbestuurder; ’n plaaswerker; Stichting Kinderpostzegels Nederland; die KWV; FASfacts; ’n wynmaker; ’n geestelike leier; Foundation for Alcohol Related Research (FARR); die outeur van FASfacts se programme; drie skoolleerders.
Gepubliseer deur Worcester Standard


