|

Voete gewas vir vergifnis oor dopstelsel en FAS
’n ATMOSFEER van gemoedelikheid het verlede Donderdag in die VG Kerksaal geheers toe die uitvoerende hoof van FASfacts die Wes-Kaapse minister van gesondheid, mnr. Marius Fransman, se voete gewas het.
Mnr. Francois Grobbelaar, een van die sprekers wat Donderdagaand in De Nova, Rawsonville, met plaaswerkers oor Fetale Alkoholsindroom (FAS) gepraat het, het verwys na die destydse dopstelsel en gesê Jesus het dit op sy hart gelê om die voete van ’n manlike en vroulike plaaswerker, asook die minister s’n, te was.
Volgens Grobbelaar het hy op ’n plaas grootgeword en was deel van dié stelsel waar plaaswerkers drank as deel van hul loon ontvang het en dat hy jammer is vir wat sodoende bewustelik of onbewustelik aan swanger vroue en hul kinders gedoen is. “Daar is mense wat werklik in hul hart by God om vergifnis vra,” het hy gesê.
Fransman, hoofspreker by dié inligtingsaand oor FAS, ’n sindroom wat opgedoen word wanneer swanger vroue alkohol drink, is gevra om te sit sodat Grobbelaar sy voete kon was as teken dat hy bereid is om deel te vorm van die oplossing vir die probleem van FAS. ’n Sigbaar aangedane Grobbelaar het daarna ’n deernisvolle omhelsing met Fransman gedeel. Grobbelaar het ook die voete van ’n ander man en drie vroue gewas as deel van ’n proses om vergifnis te verkry.
“Dit was regtig nie nodig nie – nie vir my nie,” het Fransman gesê. Maar, het hy verduidelik, hy verstaan die sielewroeging waardeur Grobbelaar gaan en dat hy, wat al baie paaie met Grobbelaar gekruis het, weet dat hy iemand is wat ’n verskil maak deur sy doen en late. Fransman het in sy toespraak die gemeenskap aangemoedig om verantwoordelikheid te neem vir hul optrede, ten spyte van watter kulture daar tot stand gekom het vanweë armoede. “Sewe persent is baie,” het hy oor die hoeveelheid van die gemeenskap wat met FAS gediagnoseer word in die provinsie, gesê. Ouers is gemaan om mekaar te help om hul kinders aan te praat as hulle skeeftrap.
Hy het FAS bestempel as iets wat kinders “verdoem” nog voordat hulle gebore is. “FAS breek die volmaaktheid van die individu.”
Hoewel die dopstelsel by sprekers soos Fatima Shabodien van Women on Farms en Nosey Pieterse van die Black Association of Wine and Spirits Industry (BAWSI), veroordeel is, het Fransman gesê ’n nuwe stelsel, waar arbeiders se loon laag is, maar hulle aansporings kry (dikwels goedkoop drank), is die jongste sondebok.
Hy het egter benadruk dat die verantwoordelikheid en keuse steeds by die plaaswerkers lê. Enkele van die nuwe beleidsmaatreëls wat geïmplementeer gaan word, sluit in:
* Vroue wat liggaamlik gereed is om kinders te kry, seksueel aktief is en dit oorweeg om kinders te hê, sal ondersoeke en berading oor algemene gesondheid en dié van die ongebore kind ontvang;
* As vasgestel word dat die ongebore baba FAS het, sal berading aan die ma en familie verskaf word en die baba se groei sal gemonitor word.
 Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, mnr Marius Fransman, se voete is onlangs deur mnr Francois Grobbelaar, hoof uitvoerende direkteur van FASfacts, gewas. Foto: Sandra Maritz.
ARTIKEL LINK: http://www.breede.com/article.asp?newsID=8432 Artikel geplaas deur Worcester Standard 23 Oktober 2008. Saamgestel deur Sandra Maritz. |
|